Haggai (Afrikaans)

Haggai (Afrikaans)

1

1:1b.HAG.001.001 In die tweede jaar van koning Daríus, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die HERE deur die diens van die profeet Haggai gekom tot Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en tot Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en gesê:

1:2b.HAG.001.002 So spreek die HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie.

1:3b.HAG.001.003 So het die woord van die HERE dan gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:

1:4b.HAG.001.004 Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?

1:5b.HAG.001.005 So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het:

1:6b.HAG.001.006 julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in 'n stukkende beurs te steek.

1:7b.HAG.001.007 So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!

1:8b.HAG.001.008 Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek 'n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE.

1:9b.HAG.001.009 Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.

1:10b.HAG.001.010 Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou.

1:11b.HAG.001.011 En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.

1:12b.HAG.001.012 Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die HERE hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die HERE hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die HERE.

1:13b.HAG.001.013 Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE.

1:14b.HAG.001.014 En die HERE het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God.

1:15b.HAG.001.015 Dit was op die vier en twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.

2

2:1b.HAG.002.001 Op die een en twintigste dag van die sewende maand het die woord van die HERE deur die diens van die profeet Haggai gekom en gesê:

2:2b.HAG.002.002 Spreek tog met Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en met Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en met die oorblyfsel van die volk en sê:

2:3b.HAG.002.003 Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?

2:4b.HAG.002.004 Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare,

2:5b.HAG.002.005 met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!

2:6b.HAG.002.006 Want so sê die HERE van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.

2:7b.HAG.002.007 Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare.

2:8b.HAG.002.008 Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.

2:9b.HAG.002.009 Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare.

2:10b.HAG.002.010 Op die vier en twintigste van die negende maand in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:

2:11b.HAG.002.011 So sê die HERE van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die wet en sê:

2:12b.HAG.002.012 As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee.

2:13b.HAG.002.013 Daarop sê Haggai: As iemand wat deur 'n lyk verontreinig is, aan al hierdie dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê: Dit sal onrein wees.

2:14b.HAG.002.014 Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie, spreek die HERE, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer--onrein is dit.

2:15b.HAG.002.015 Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen gelê het in die tempel van die HERE,

2:16b.HAG.002.016 in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was maar twintig.

2:17b.HAG.002.017 Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael--al die werk van julle hande--nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die HERE.

2:18b.HAG.002.018 Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier en twintigste dag van die negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van die HERE gelê het; merk op:

2:19b.HAG.002.019 Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën.

2:20b.HAG.002.020 Vir die tweede maal het die woord van die HERE tot Haggai gekom op die vier en twintigste van die maand en gesê:

2:21b.HAG.002.021 Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe.

2:22b.HAG.002.022 En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.

2:23b.HAG.002.023 In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die HERE, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare.


Holder of rights
Multilingual Bible Corpus

Citation Suggestion for this Object
TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Haggai (Afrikaans). Haggai (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-85A4-8