Micah (Afrikaans)

Micah (Afrikaans)

1

1:1b.MIC.001.001 Die woord van die HERE wat tot Miga, die Morastiet, gekom het, in die dae van Jotam, Agas, Hiskía, konings van Juda; wat hy gesien het aangaande Samaría en Jerusalem.

1:2b.MIC.001.002 o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here HERE getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis.

1:3b.MIC.001.003 Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde.

1:4b.MIC.001.004 En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs 'n helling afstroom!

1:5b.MIC.001.005 Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?

1:6b.MIC.001.006 Daarom sal Ek Samaría 'n puinhoop maak op die veld, 'n plek om wingerdstokke te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê.

1:7b.MIC.001.007 En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot 'n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.

1:8b.MIC.001.008 Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise.

1:9b.MIC.001.009 Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem.

1:10b.MIC.001.010 Moet dit nie in Gat vertel nie, ween daar ganselik nie! In Bet-Ofra het ek my in die stof gewentel!

1:11b.MIC.001.011 Trek weg in smadelike naaktheid, o inwoners van Safir! Die inwoners van Saänan trek nie uit nie. Die weeklagte van Bet-Haësel sal julle daar die verblyf ontneem.

1:12b.MIC.001.012 Want die inwoners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die HERE na die poort van Jerusalem.

1:13b.MIC.001.013 Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis! Dit was die begin van sonde vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is.

1:14b.MIC.001.014 Daarom moet jy 'n afskeidsgeskenk gee aan Moréset-Gat; die huise van Agsib sal 'n teleurstelling wees vir die konings van Israel.

1:15b.MIC.001.015 Nogmaals sal Ek jou 'n veroweraar bring, o inwoner van Marésa; die adel van Israel sal tot by Adúllam kom.

1:16b.MIC.001.016 Maak 'n kaalte op jou hoof en skeer jou weens jou troetelkinders; maak die kaalplek groot soos dié van 'n aasvoël, omdat hulle van jou af weggevoer is in ballingskap.

2

2:1b.MIC.002.001 Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.

2:2b.MIC.002.002 Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.

2:3b.MIC.002.003 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal 'n tyd van onheil wees!

2:4b.MIC.002.004 In dié dag sal hulle 'n spotlied oor julle aanhef en 'n klaaglied sing: Dit is gedaan--sal hulle sê--ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit.

2:5b.MIC.002.005 Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in'n erfdeel in die vergadering van die HERE nie.

2:6b.MIC.002.006 Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As 'n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!

2:7b.MIC.002.007 Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die HERE dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?

2:8b.MIC.002.008 Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog.

2:9b.MIC.002.009 Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid.

2:10b.MIC.002.010 Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, 'n onherstelbare verwoesting.

2:11b.MIC.002.011 As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank--dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees!

2:12b.MIC.002.012 Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense.

2:13b.MIC.002.013 Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan.

3

3:1b.MIC.003.001 Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie?

3:2b.MIC.003.002 Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente;

3:3b.MIC.003.003 en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in 'n pot en soos vleis in 'n pan.

3:4b.MIC.003.004 Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.

3:5b.MIC.003.005 So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle 'n heilige oorlog!

3:6b.MIC.003.006 Daarom sal dit nag word vir julle, sonder 'n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word.

3:7b.MIC.003.007 En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.

3:8b.MIC.003.008 Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.

3:9b.MIC.003.009 Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg 'n afsku het en al wat reg is, verdraai;

3:10b.MIC.003.010 julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!

3:11b.MIC.003.011 Sy hoofde spreek vonnisse uit vir 'n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!

3:12b.MIC.003.012 Daarom sal Sion om julle ontwil soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.

4

4:1b.MIC.004.001 En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.

4:2b.MIC.004.002 En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.

4:3b.MIC.004.003 En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.

4:4b.MIC.004.004 Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.

4:5b.MIC.004.005 Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.

4:6b.MIC.004.006 In dié dag, spreek die HERE, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het.

4:7b.MIC.004.007 Dan sal Ek die wat kreupel was, tot 'n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot 'n magtige nasie. En die HERE sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid.

4:8b.MIC.004.008 En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem.

4:9b.MIC.004.009 Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar?

4:10b.MIC.004.010 Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom--dáár sal jy gered word, dáár sal die HERE jou verlos uit die hand van jou vyande.

4:11b.MIC.004.011 En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion.

4:12b.MIC.004.012 Maar hulle ken nie die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.

4:13b.MIC.004.013 Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die HERE toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.

5

5:1b.MIC.005.001 Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het 'n wal teen ons opgegooi; met 'n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.

5:2b.MIC.005.002 En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

5:3b.MIC.005.003 Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat 'n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.

5:4b.MIC.005.004 En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die HERE, in die majesteit van die Naam van die HERE sy God; en hulle sal rustig woon, want nou sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.

5:5b.MIC.005.005 En Hy sal vrede wees. Wanneer Assur in ons land kom en hy ons paleise wil betree, sal ons teenoor hom sewe herders stel, ja, agt vorste uit die mense.

5:6b.MIC.005.006 En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.

5:7b.MIC.005.007 Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die HERE, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen mensekind vertoef nie.

5:8b.MIC.005.008 En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos 'n leeu onder die diere van die woud, soos 'n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red.

5:9b.MIC.005.009 Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal uitgeroei word.

5:10b.MIC.005.010 En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig.

5:11b.MIC.005.011 Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek.

5:12b.MIC.005.012 Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie.

5:13b.MIC.005.013 En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie.

5:14b.MIC.005.014 En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes.

5:15b.MIC.005.015 En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie.

6

6:1b.MIC.006.001 Hoor tog wat die HERE sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en laat die heuwels na jou stem luister!

6:2b.MIC.006.002 Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die HERE het 'n twis met sy volk en sal met Israel 'n regsgeding hou.

6:3b.MIC.006.003 My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!

6:4b.MIC.006.004 Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop, en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam.

6:5b.MIC.006.005 My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.

6:6b.MIC.006.006 Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?

6:7b.MIC.006.007 Sal die HERE 'n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?

6:8b.MIC.006.008 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

6:9b.MIC.006.009 Die stem van die HERE roep tot die stad--dit is heilsaam om u Naam te vrees--:Hoor die roede, en wie dit bestel het.

6:10b.MIC.006.010 Is daar nog altyd in die huis van die goddelose skatte van onreg en 'n skrale efa wat vervloek is?

6:11b.MIC.006.011 Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike gewigte?

6:12b.MIC.006.012 Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond.

6:13b.MIC.006.013 So slaan Ek jou dan ook met 'n smartlike wond, met verwoesting weens jou sondes.

6:14b.MIC.006.014 Jy sal eet, maar nie versadig word nie, sodat jou honger in jou binneste bly; en jy sal wegbring sonder om iets te red; en wat jy red, sal Ek aan die swaard oorgee.

6:15b.MIC.006.015 Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jou nie met olie salf nie, en mos maak, maar geen wyn drink nie.

6:16b.MIC.006.016 Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot 'n woesteny sou maak en die inwoners daarvan 'n bespotting: en die smaad van my volk sal julle dra.

7

7:1b.MIC.007.001 Wee my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye.

7:2b.MIC.007.002 Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net.

7:3b.MIC.007.003 Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.

7:4b.MIC.007.004 Die beste van hulle is soos 'n doringstruik, die mees opregte erger as 'n doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle verwarring daar wees.

7:5b.MIC.007.005 Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê.

7:6b.MIC.007.006 Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!

7:7b.MIC.007.007 Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.

7:8b.MIC.007.008 Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is 'n lig vir my.

7:9b.MIC.007.009 Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.

7:10b.MIC.007.010 Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die HERE, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate.

7:11b.MIC.007.011 Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees.

7:12b.MIC.007.012 Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg.

7:13b.MIC.007.013 Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge.

7:14b.MIC.007.014 Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in 'n bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae.

7:15b.MIC.007.015 Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien.

7:16b.MIC.007.016 Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word.

7:17b.MIC.007.017 Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die HERE onse God, en hulle sal vir U vrees.

7:18b.MIC.007.018 Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid.

7:19b.MIC.007.019 Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.

7:20b.MIC.007.020 U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.


Holder of rights
Multilingual Bible Corpus

Citation Suggestion for this Object
TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Micah (Afrikaans). Micah (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-8598-6