Lamentations (Afrikaans)
1
1:1b.LAM.001.001 Alef. Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword.
1:2b.LAM.001.002 Bet. Bitterlik ween sy snags--haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.
1:3b.LAM.001.003 Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om 'n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in.
1:4b.LAM.001.004 Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter.
1:5b.LAM.001.005 He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.
1:6b.LAM.001.006 Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit.
1:7b.LAM.001.007 Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.
1:8b.LAM.001.008 Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy 'n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.
1:9b.LAM.001.009 Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy 'n trooster het. Sien my ellende aan, HERE, want die vyand hou hom groot.
1:10b.LAM.001.010 Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.
1:11b.LAM.001.011 Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, HERE, en merk op dat ek 'n veragte geword het.
1:12b.LAM.001.012 Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar 'n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die HERE my bedroef het op die dag van sy toorngloed.
1:13b.LAM.001.013 Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het 'n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.
1:14b.LAM.001.014 Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.
1:15b.LAM.001.015 Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my 'n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.
1:16b.LAM.001.016 Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.
1:17b.LAM.001.017 Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die HERE het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde 'n voorwerp van afsku geword.
1:18b.LAM.001.018 Sade. Regverdig is Hy, die HERE, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.
1:19b.LAM.001.019 Kof. Ek het geroep na my liefhebbers--hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik.
1:20b.LAM.001.020 Resj. Aanskou, HERE, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes.
1:21b.LAM.001.021 Sjin. Hulle hoor dat ek sug, ek het geen trooster nie; al my vyande hoor van my onheil, hulle is bly dat U dit gedoen het. U laat die dag kom wat U uitgeroep het, dat hulle kan wees soos ek,
1:22b.LAM.001.022 Tau. dat al hulle boosheid voor u aangesig kom; en doen aan hulle soos U aan my gedoen het vanweë al my oortredinge, want my versugtinge is baie, en my hart is krank.
2
2:1b.LAM.002.001 Alef. Ag, hoe het die Here in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek! Hy het die sieraad van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp en nie gedink aan die voetbank van sy voete op die dag van sy toorn nie.
2:2b.LAM.002.002 Bet. Die Here het al die woonplekke van Jakob sonder verskoning verslind; in sy grimmigheid het Hy die vestings van die dogter van Juda verwoes, op die grond gewerp, die koninkryk en sy vorste ontheilig.
2:3b.LAM.002.003 Gimel. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het sy regterhand teruggetrek voor die vyand, en in Jakob het Hy gebrand soos 'n vuurvlam wat rondom verteer.
2:4b.LAM.002.004 Dalet. Hy het sy boog gespan soos 'n vyand, Hom opgestel met sy regterhand soos 'n teëstander en gedood alles wat 'n lus was vir die oog in die tent van die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur.
2:5b.LAM.002.005 He. Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel verslind, al sy paleise verslind, sy vestings verwoes en geklaag en geklag by die dogter van Juda vermenigvuldig.
2:6b.LAM.002.006 Wau. En Hy het sy eie omheining soos 'n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes; die HERE het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp.
2:7b.LAM.002.007 Sajin. Die Here het sy altaar verwerp, sy heiligdom ontheilig, die mure van haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het gedruis gemaak in die huis van die HERE soos op 'n feesdag.
2:8b.LAM.002.008 Get. Die HERE het Hom voorgeneem om die muur van die dogter van Sion te verwoes; Hy het die meetsnoer gespan, sy hand nie teruggetrek van vernietiging nie; ja, Hy het voorskans en muur laat treur, saam sak hulle inmekaar.
2:9b.LAM.002.009 Tet. Haar poorte het in die grond gesink, Hy het haar grendels te gronde gerig en verbreek; haar koning en haar vorste is onder die heidene; daar is geen onderwysing nie, en haar profete ontvang geen gesig van die HERE nie.
2:10b.LAM.002.010 Jod. Die oudstes van die dogter van Sion sit en swyg op die grond, hulle het stof op hul hoof gegooi, rouklere aangegord; die jonkvroue van Jerusalem het hulle hoof na die aarde gebuig.
2:11b.LAM.002.011 Kaf. My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag,
2:12b.LAM.002.012 Lamed. wat aan hulle moeders sê: Waar is koring en wyn? terwyl hulle versmag soos gewondes op die pleine van die stad, terwyl hulle lewe uitgestort word aan die bors van hul moeders.
2:13b.LAM.002.013 Mem. Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos, jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokenheid is so groot soos die see--wie kan jou gesond maak?
2:14b.LAM.002.014 Noen. Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou ongeregtigheid nie geopenbaar om jou lot te verander nie, maar hulle het vir jou godsprake gesien tot bedrog en verstoting.
2:15b.LAM.002.015 Samek. Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou; hulle spot en skud hulle hoof oor die dogter van Jerusalem: Is dit die stad waarvan hulle gesê het: Volmaak in skoonheid, vreugde van die hele aarde?
2:16b.LAM.002.016 Pe. Al jou vyande rek hulle mond oop oor jou, hulle spot en kners op die tande, hulle sê: Ons het verslind, ja, dit is die dag wat ons verwag het; ons het dit bereik, dit belewe!
2:17b.LAM.002.017 Ajin. Die HERE het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, sy woord volbring wat Hy sedert die dae van die voortyd beveel het; Hy het sonder verskoning afgebreek en die vyand oor jou bly gemaak, die horing van jou teëstanders verhoog.
2:18b.LAM.002.018 Sade. Hulle hart roep na die HERE. Muur van die dogter van Sion, laat trane afloop soos 'n stroom, dag en nag; gun jouself geen verposing nie, laat jou oogappel nie rus nie.
2:19b.LAM.002.019 Kof. Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die HERE, hef jou hande op na Hom, ter wille van die lewe van jou kinders wat versmag van honger by die hoek van al die strate.
2:20b.LAM.002.020 Resj. Aanskou, HERE, en merk op aan wie U so gedoen het! Moet vroue dan hulle vrug eet, kindertjies wat op die hande gedra word? Moet dan in die heiligdom van die HERE priester en profeet gedood word?
2:21b.LAM.002.021 Sjin. Op die grond lê jonk en oud in die strate; my jonkvroue en my jongmanne het deur die swaard geval; U het hulle gedood op die dag van u toorn, U het geslag sonder verskoning.
2:22b.LAM.002.022 Tau. U het soos op 'n feesdag my verskrikkinge geroep van rondom, en niemand het op die dag van die HERE se toorn vrygeraak of ontkom nie; die wat ek op die hande gedra en grootgemaak het--my vyand het hulle omgebring.
3
3:1b.LAM.003.001 Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
3:2b.LAM.003.002 My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
3:3b.LAM.003.003 Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
3:4b.LAM.003.004 Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
3:5b.LAM.003.005 Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.
3:6b.LAM.003.006 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
3:7b.LAM.003.007 Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
3:8b.LAM.003.008 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
3:9b.LAM.003.009 Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
3:10b.LAM.003.010 Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
3:11b.LAM.003.011 Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.
3:12b.LAM.003.012 Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.
3:13b.LAM.003.013 He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
3:14b.LAM.003.014 Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
3:15b.LAM.003.015 Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
3:16b.LAM.003.016 Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
3:17b.LAM.003.017 En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
3:18b.LAM.003.018 Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.
3:19b.LAM.003.019 Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
3:20b.LAM.003.020 As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
3:21b.LAM.003.021 Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
3:22b.LAM.003.022 Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;
3:23b.LAM.003.023 hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
3:24b.LAM.003.024 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
3:25b.LAM.003.025 Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
3:26b.LAM.003.026 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
3:27b.LAM.003.027 Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.
3:28b.LAM.003.028 Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
3:29b.LAM.003.029 Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop!
3:30b.LAM.003.030 Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
3:31b.LAM.003.031 Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
3:32b.LAM.003.032 Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;
3:33b.LAM.003.033 want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
3:34b.LAM.003.034 Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
3:35b.LAM.003.035 dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
3:36b.LAM.003.036 dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie gesien nie?
3:37b.LAM.003.037 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
3:38b.LAM.003.038 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
3:39b.LAM.003.039 Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
3:40b.LAM.003.040 Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;
3:41b.LAM.003.041 laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
3:42b.LAM.003.042 Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie.
3:43b.LAM.003.043 Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.
3:44b.LAM.003.044 U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
3:45b.LAM.003.045 U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
3:46b.LAM.003.046 Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
3:47b.LAM.003.047 skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
3:48b.LAM.003.048 My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
3:49b.LAM.003.049 Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
3:50b.LAM.003.050 totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.
3:51b.LAM.003.051 My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
3:52b.LAM.003.052 Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;
3:53b.LAM.003.053 hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
3:54b.LAM.003.054 Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
3:55b.LAM.003.055 Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.
3:56b.LAM.003.056 U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
3:57b.LAM.003.057 U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
3:58b.LAM.003.058 Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
3:59b.LAM.003.059 U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.
3:60b.LAM.003.060 U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
3:61b.LAM.003.061 Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,
3:62b.LAM.003.062 die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
3:63b.LAM.003.063 Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
3:64b.LAM.003.064 Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.
3:65b.LAM.003.065 U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
3:66b.LAM.003.066 U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.
4
4:1b.LAM.004.001 Alef. Ag, hoe is die goud verdonker, die goeie goud verander, die heilige stene weggegooi op die hoek van al die strate!
4:2b.LAM.004.002 Bet. Die kinders van Sion, die kosbares, wat teen fyn goud geskat was, ag, hoe is hulle gereken soos erdekruike, die werk van pottebakkershande.
4:3b.LAM.004.003 Gimel. Selfs jakkalse gee die speen, laat hulle kleintjies drink, maar die dogter van my volk het wreed geword soos die volstruise in die woestyn.
4:4b.LAM.004.004 Dalet. Die tong van die suigling kleef aan sy verhemelte van dors, kindertjies vra brood, niemand breek dit vir hulle nie.
4:5b.LAM.004.005 He. Hulle wat lekkernye geëet het, het versmag op die strate; die wat op purper gedra is, het die ashope omarm.
4:6b.LAM.004.006 Wau. Want die ongeregtigheid van die dogter van my volk was groter as die sonde van Sodom wat soos in 'n oomblik omgekeer is, sonder dat iemand die hand daaraan geslaan het.
4:7b.LAM.004.007 Sajin. Haar vorste was helderder as sneeu, witter as melk, rooier van liggaam as korale, hulle gestalte 'n saffier.
4:8b.LAM.004.008 Get. Maar hulle voorkoms het donkerder as swartsel geword, hulle is nie herken op die strate nie; hulle vel kleef aan hul gebeente, dit het droog geword soos hout.
4:9b.LAM.004.009 Tet. Die wat deur die swaard verslaan is, is gelukkiger as die wat deur die honger verslaan is, wat, deurboor, vergaan het uit gebrek aan veldvrugte.
4:10b.LAM.004.010 Jod. Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook; dit het hulle voedsel geword in die verbreking van die dogter van my volk.
4:11b.LAM.004.011 Kaf. Die HERE het sy grimmigheid laat uitwoed, sy toorngloed uitgegiet en in Sion 'n vuur aangesteek wat die fondamente daarvan verteer het.
4:12b.LAM.004.012 Lamed. Hulle het dit nie geglo nie, die konings van die aarde en al die inwoners van die wêreld, dat 'n teëstander of 'n vyand in die poorte van Jerusalem sou kom nie.
4:13b.LAM.004.013 Mem. Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar priesters wat daar binne-in die bloed van die regverdiges vergiet het.
4:14b.LAM.004.014 Noen. Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek, sodat 'n mens hulle klere nie kon aanraak nie.
4:15b.LAM.004.015 Samek. Staan opsy, onrein! --het die mense hulle toegeroep. Staan opsy, staan opsy, moenie aanraak nie! As hulle vlug, ja waggel, is onder die heidene gesê: Hulle mag hier nie langer vertoef nie.
4:16b.LAM.004.016 Pe. Die aangesig van die HERE het hulle verstrooi, Hy sal hulle verder nie meer met welgevalle aansien nie. Vir die persoon van die priesters het hulle geen agting gehad, aan die grysaards het hulle geen genade bewys nie.
4:17b.LAM.004.017 Ajin. Nog altyddeur smag ons oë tevergeefs na hulp vir ons; op ons wagpos sien ons met verwagting uit na 'n nasie wat nie sal help nie.
4:18b.LAM.004.018 Sade. Hulle het jag gemaak op ons voetstappe, sodat ons op ons pleine nie kon loop nie; ons einde het nader gekom, ons dae was vol, ja, ons einde het gekom.
4:19b.LAM.004.019 Kof. Ons vervolgers was vinniger as die arende van die hemel, op die berge het hulle ons hewig agtervolg, in die woestyn het hulle ons voorgelê.
4:20b.LAM.004.020 Resj. Die asem van ons neus, die gesalfde van die HERE, is in hulle kuile gevang, hy onder wie se skaduwee ons gedink het om te lewe onder die nasies.
4:21b.LAM.004.021 Sjin. Verbly en verheug jou, dogter van Edom, wat in die land Us woon; ook na jou sal die beker kom, jy sal dronk word en jouself ontbloot.
4:22b.LAM.004.022 Tau. Jou straf het sy einde bereik, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat wegvoer nie. Hy besoek jou ongeregtigheid, dogter van Edom, Hy openbaar jou sondes.
5
5:1b.LAM.005.001 Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.
5:2b.LAM.005.002 Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.
5:3b.LAM.005.003 Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees.
5:4b.LAM.005.004 Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in.
5:5b.LAM.005.005 Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word.
5:6b.LAM.005.006 Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word.
5:7b.LAM.005.007 Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede.
5:8b.LAM.005.008 Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.
5:9b.LAM.005.009 Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn.
5:10b.LAM.005.010 Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger.
5:11b.LAM.005.011 Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda.
5:12b.LAM.005.012 Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie.
5:13b.LAM.005.013 Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout.
5:14b.LAM.005.014 Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel.
5:15b.LAM.005.015 Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander.
5:16b.LAM.005.016 Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het.
5:17b.LAM.005.017 Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister:
5:18b.LAM.005.018 ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop.
5:19b.LAM.005.019 U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag.
5:20b.LAM.005.020 Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae?
5:21b.LAM.005.021 Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.
5:22b.LAM.005.022 Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?
- Holder of rights
- Multilingual Bible Corpus
- Citation Suggestion for this Object
- TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Lamentations (Afrikaans). Lamentations (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-8580-0