Ecclesiastes (Afrikaans)
1
1:1b.ECC.001.001 Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.
1:2b.ECC.001.002 Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
1:3b.ECC.001.003 Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?
1:4b.ECC.001.004 Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.
1:5b.ECC.001.005 En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.
1:6b.ECC.001.006 Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug.
1:7b.ECC.001.007 Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.
1:8b.ECC.001.008 Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.
1:9b.ECC.001.009 Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.
1:10b.ECC.001.010 Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.
1:11b.ECC.001.011 Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.
1:12b.ECC.001.012 Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.
1:13b.ECC.001.013 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is 'n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
1:14b.ECC.001.014 Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind.
1:15b.ECC.001.015 Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.
1:16b.ECC.001.016 Ek het met myself gespreek en gesê: Kyk, ék het groot en altyd groter wysheid verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie wysheid en kennis gesien.
1:17b.ECC.001.017 Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook 'n gejaag na wind is.
1:18b.ECC.001.018 Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart.
2
2:1b.ECC.002.001 Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.
2:2b.ECC.002.002 Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?
2:3b.ECC.002.003 Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik--terwyl my hart my met wysheid sou lei--en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae.
2:4b.ECC.002.004 Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant.
2:5b.ECC.002.005 Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.
2:6b.ECC.002.006 Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.
2:7b.ECC.002.007 Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het.
2:8b.ECC.002.008 Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.
2:9b.ECC.002.009 En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.
2:10b.ECC.002.010 En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.
2:11b.ECC.002.011 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het--en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
2:12b.ECC.002.012 Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is!
2:13b.ECC.002.013 Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:
2:14b.ECC.002.014 die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.
2:15b.ECC.002.015 Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is.
2:16b.ECC.002.016 Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas!
2:17b.ECC.002.017 Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.
2:18b.ECC.002.018 En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat ná my sal kom.
2:19b.ECC.002.019 En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.
2:20b.ECC.002.020 Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.
2:21b.ECC.002.021 Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.
2:22b.ECC.002.022 Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?
2:23b.ECC.002.023 Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.
2:24b.ECC.002.024 Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.
2:25b.ECC.002.025 Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?
2:26b.ECC.002.026 Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.
3
3:1b.ECC.003.001 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd:
3:2b.ECC.003.002 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is,
3:3b.ECC.003.003 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou,
3:4b.ECC.003.004 'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring,
3:5b.ECC.003.005 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing,
3:6b.ECC.003.006 'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi,
3:7b.ECC.003.007 'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek,
3:8b.ECC.003.008 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede.
3:9b.ECC.003.009 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei?
3:10b.ECC.003.010 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
3:11b.ECC.003.011 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
3:12b.ECC.003.012 So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.
3:13b.ECC.003.013 En ook--dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God.
3:14b.ECC.003.014 Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.
3:15b.ECC.003.015 Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op wat verbygegaan het.
3:16b.ECC.003.016 Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg--daar was onreg, en die plek van geregtigheid--daar was onreg.
3:17b.ECC.003.017 Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk.
3:18b.ECC.003.018 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
3:19b.ECC.003.019 Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.
3:20b.ECC.003.020 Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.
3:21b.ECC.003.021 Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?
3:22b.ECC.003.022 So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?
4
4:1b.ECC.004.001 Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.
4:2b.ECC.004.002 Daarom het ek die dooies wat lankal gesterf het, gelukkig geprys bo die lewendes wat nog lewe,
4:3b.ECC.004.003 en gelukkig bo hulle altwee hom wat nog nie gewees het en die verkeerde werk wat onder die son plaasvind, nie gesien het nie.
4:4b.ECC.004.004 Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.
4:5b.ECC.004.005 Die dwaas vou sy hande en eet sy eie vlees op.
4:6b.ECC.004.006 Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind.
4:7b.ECC.004.007 En weer het ek 'n vergeefse moeite gesien onder die son:
4:8b.ECC.004.008 Daar is een allenig sonder 'n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die goeie? Ook dit is tevergeefs en 'n verkeerde saak.
4:9b.ECC.004.009 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.
4:10b.ECC.004.010 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel.
4:11b.ECC.004.011 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?
4:12b.ECC.004.012 En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en 'n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.
4:13b.ECC.004.013 Beter is 'n behoeftige maar wyse jongman as 'n ou maar dwase koning wat nie meer weet om hom te laat waarsku nie.
4:14b.ECC.004.014 Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word, alhoewel hy as 'n arme in die koninkryk van die ander gebore was.
4:15b.ECC.004.015 Ek het gesien hoe al die lewendes wat onder die son wandel, aan die kant van die jongman was, van die tweede, wat sy opvolger sou word;
4:16b.ECC.004.016 daar was geen einde aan al die mense, aan almal aan wie se hoof hy gestaan het nie. Tog sal die nageslag hulle nie oor hom verbly nie; so is dit ook tevergeefs en 'n gejaag na wind.
4:17b.ECC.004.017 Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te hoor, is beter as dat dwase 'n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie, sodat hulle kwaad doen.
5
5:1b.ECC.005.001 Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.
5:2b.ECC.005.002 Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur baie woorde.
5:3b.ECC.005.003 As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.
5:4b.ECC.005.004 Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.
5:5b.ECC.005.005 Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?
5:6b.ECC.005.006 Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!
5:7b.ECC.005.007 As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die land--verwonder jou nie oor die saak nie, want 'n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle.
5:8b.ECC.005.008 Maar 'n voordeel vir 'n land onder alles is dit: 'n koning wat aan die landbou diensbaar word.
5:9b.ECC.005.009 Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.
5:10b.ECC.005.010 As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou?
5:11b.ECC.005.011 Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.
5:12b.ECC.005.012 Daar is 'n smartlike onheil wat ek onder die son gesien het: rykdom wat deur sy besitter bewaar word tot sy eie ongeluk.
5:13b.ECC.005.013 Gaan hierdie rykdom verlore deur 'n ongeval, en het hy 'n seun verwek, dan besit dié niks nie.
5:14b.ECC.005.014 Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie.
5:15b.ECC.005.015 So is dit dan ook 'n smartlike onheil: net soos hy gekom het, so sal hy heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?
5:16b.ECC.005.016 Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding en toorn!
5:17b.ECC.005.017 Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel.
5:18b.ECC.005.018 Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit 'n gawe van God.
5:19b.ECC.005.019 Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met die vreugde van sy hart.
6
6:1b.ECC.006.001 Daar is 'n onheil wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom:
6:2b.ECC.006.002 'n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet nie, want 'n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en 'n bitter lyding.
6:3b.ECC.006.003 As 'n man honderd kinders verwek en baie jare lewe en die dae van sy jare baie is en sy siel nie genoeg kry van die goeie en hy ook nie 'n begrafnis het nie, dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy,
6:4b.ECC.006.004 want in nietigheid kom dit, en in duisternis gaan dit heen, en met duisternis word die naam daarvan bedek;
6:5b.ECC.006.005 ook het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as hy.
6:6b.ECC.006.006 Ja, al lewe hy ook twee maal duisend jaar en geniet nie die goeie nie--gaan nie alles na een en dieselfde plek nie?
6:7b.ECC.006.007 Al die moeitevolle arbeid van 'n mens is vir sy mond, en tog word die begeerte nie bevredig nie.
6:8b.ECC.006.008 Want watter voorkeur het die wyse bo die dwaas, watter voorkeur die arme wat weet om hom te beweeg onder die lewendes?
6:9b.ECC.006.009 Die aanskouing met die oë is beter as die geswerf van die begeerte. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.
6:10b.ECC.006.010 Wat hy ook is, lankal is sy naam genoem, en dit is bekend dat hy mens is: hy kan nie in die gereg gaan met Hom wat sterker is as hy nie.
6:11b.ECC.006.011 Want hoe meer woorde, des te meer vermeerder hulle die nietigheid; watter voordeel het die mens daarvan?
6:12b.ECC.006.012 Want wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende die getal dae van sy nietige lewe wat hy soos 'n skaduwee deurbring? Want wie kan aan die mens bekend maak wat ná hom sal wees onder die son?
7
7:1b.ECC.007.001 'n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag.
7:2b.ECC.007.002 Dit is beter om te gaan na 'n klaaghuis as om te gaan na 'n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem.
7:3b.ECC.007.003 Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart.
7:4b.ECC.007.004 Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde.
7:5b.ECC.007.005 Dit is beter om te luister na die bestraffing van 'n wyse as dat 'n mens luister na die lied van die dwase.
7:6b.ECC.007.006 Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Dit is dan ook tevergeefs.
7:7b.ECC.007.007 Sekerlik, afpersing maak 'n wyse dwaas, en 'n geskenk bederwe die hart.
7:8b.ECC.007.008 Die einde van 'n saak is beter as sy begin; 'n lankmoedige is beter as 'n hoogmoedige.
7:9b.ECC.007.009 Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.
7:10b.ECC.007.010 Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.
7:11b.ECC.007.011 Wysheid is net so goed as 'n erfdeel en 'n voordeel vir die wat die son sien.
7:12b.ECC.007.012 Want wysheid is 'n beskutting, geld is 'n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.
7:13b.ECC.007.013 Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?
7:14b.ECC.007.014 Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie.
7:15b.ECC.007.015 Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is 'n regverdige wat ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is 'n goddelose wat ondanks sy goddeloosheid lank lewe.
7:16b.ECC.007.016 Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?
7:17b.ECC.007.017 Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou tyd?
7:18b.ECC.007.018 Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook van die ander jou hand nie aftrek nie; want die wat God vrees, ontkom aan dit alles.
7:19b.ECC.007.019 Die wysheid versterk die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is;
7:20b.ECC.007.020 want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.
7:21b.ECC.007.021 Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie.
7:22b.ECC.007.022 Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het.
7:23b.ECC.007.023 Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel; ek het gesê: Ek wil wys word, maar dit het ver van my gebly.
7:24b.ECC.007.024 Wat bestaan, is ver en baie diep; wie kan dit begryp?
7:25b.ECC.007.025 Ek het my daartoe gewend en my hart gerig om te weet en na te speur, en wysheid en 'n slotsom te soek, en om so die goddeloosheid as dwaasheid en die dwaasheid as onverstandigheid te leer ken.
7:26b.ECC.007.026 En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang.
7:27b.ECC.007.027 Kyk, dit het ek uitgevind, sê die Prediker, deur die een by die ander te voeg, om 'n slotsom te vind--
7:28b.ECC.007.028 wat my siel lank gesoek het, maar wat ek nie gevind het nie: een mens uit duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek onder soveel nie gevind nie.
7:29b.ECC.007.029 Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
8
8:1b.ECC.008.001 Wie is soos die wyse, en wie weet die verklaring van die dinge? Die wysheid van 'n mens verhelder sy gesig, en die hardheid van sy gesig word daardeur verander.
8:2b.ECC.008.002 Ek sê: Neem die bevel van die koning in ag, en wel ter wille van die eed by God.
8:3b.ECC.008.003 Haas jou nie om van hom af weg te gaan nie; laat jou nie in met 'n slegte saak nie, want alles wat hy wil, doen hy.
8:4b.ECC.008.004 Want die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u?
8:5b.ECC.008.005 Hy wat die gebod onderhou, sal geen kwaad ondervind nie; en die hart van 'n wyse sal die tyd en die regterlike beslissing belewe.
8:6b.ECC.008.006 Want vir elke ding is daar 'n tyd en 'n beslissing; want die boosheid van die mens druk swaar op hom.
8:7b.ECC.008.007 Want hy weet nie wat sal wees nie; want hoe dit sal wees--wie kan hom dit te kenne gee?
8:8b.ECC.008.008 Daar is geen mens wat heerskappy het oor die wind om die wind teë te hou nie, en niemand het mag oor die dag van die dood nie, en daar is geen vrystelling in die oorlog nie; so sal ook die goddeloosheid hom wat dit begaan, nie red nie.
8:9b.ECC.008.009 Dit alles het ek gesien deurdat ek my hart gerig het op elke werk wat onder die son gedoen word, in 'n tyd waarin die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.
8:10b.ECC.008.010 So het ek dan die goddelose sien begrawe word en die rus ingaan, terwyl die wat reg gehandel het, uit die heilige plek moes weggaan en in die stad vergeet is. Ook dit is dan nietigheid.
8:11b.ECC.008.011 Omdat die oordeel oor 'n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen;
8:12b.ECC.008.012 aangesien 'n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe--alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees,
8:13b.ECC.008.013 en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie.
8:14b.ECC.008.014 Dit is 'n nietigheid wat op die aarde gebeur, dat daar regverdiges is met wie dit gaan volgens die dade van die goddelose, en dat daar goddelose is met wie dit gaan volgens die dade van die regverdiges; so sê ek dan dat dit ook nietigheid is.
8:15b.ECC.008.015 Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son.
8:16b.ECC.008.016 Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word--ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë die slaap sien nie--
8:17b.ECC.008.017 het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan--hy sal dit nie kan uitvind nie!
9
9:1b.ECC.009.001 Want dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.
9:2b.ECC.009.002 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir 'n eed.
9:3b.ECC.009.003 Dit is 'n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe!
9:4b.ECC.009.004 Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu.
9:5b.ECC.009.005 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.
9:6b.ECC.009.006 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
9:7b.ECC.009.007 Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal behae in jou werke.
9:8b.ECC.009.008 Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie.
9:9b.ECC.009.009 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son--al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son.
9:10b.ECC.009.010 Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.
9:11b.ECC.009.011 Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal.
9:12b.ECC.009.012 Ja, die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet--soos hulle word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval.
9:13b.ECC.009.013 Ook het ek dit as wysheid gesien onder die son, en dit was groot in my oog:
9:14b.ECC.009.014 daar was 'n klein stadjie en min manne daarin, en 'n groot koning het daarteen gekom en dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou.
9:15b.ECC.009.015 En daarin is 'n arm wyse man gevind; dié het die stad deur sy wysheid gered, maar geen mens het aan daardie arm man gedink nie.
9:16b.ECC.009.016 Toe het ek gesê: Wysheid is beter as heldekrag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie.
9:17b.ECC.009.017 Woorde van wyse manne, wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase.
9:18b.ECC.009.018 Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.
10
10:1b.ECC.010.001 Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; 'n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer.
10:2b.ECC.010.002 Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas is na links.
10:3b.ECC.010.003 Ja, ook as die dwaas op die weg wandel, ontbreek sy verstand; en hy sê aan elkeen dat hy 'n dwaas is.
10:4b.ECC.010.004 As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.
10:5b.ECC.010.005 Daar is 'n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, 'n dwaling wat van die maghebber uitgaan:
10:6b.ECC.010.006 die dwaasheid word op groot hoogtes gestel, en die rykes moet in die vernedering sit.
10:7b.ECC.010.007 Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop.
10:8b.ECC.010.008 Wie 'n kuil grawe, kan daarin val; en een wat 'n muur afbreek, 'n slang kan hom byt.
10:9b.ECC.010.009 Wie klippe uitbreek, kan hom daarmee seermaak; wie hout klowe, kan daardeur in gevaar kom.
10:10b.ECC.010.010 As die yster stomp geword het, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy die kragte meer inspan; maar wysheid is voordelig om iets te laat beantwoord.
10:11b.ECC.010.011 As die slang byt voor die beswering, baat die besweerder nie.
10:12b.ECC.010.012 Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself.
10:13b.ECC.010.013 Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond is skadelike onverstandigheid.
10:14b.ECC.010.014 En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee?
10:15b.ECC.010.015 Die inspanning van die dwaas vermoei hom, omdat hy nie eens weet om na die stad te gaan nie.
10:16b.ECC.010.016 Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en as jou vorste in die môre vroeg maaltyd hou.
10:17b.ECC.010.017 Gelukkig is jy, o land, as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie.
10:18b.ECC.010.018 Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis.
10:19b.ECC.010.019 Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles.
10:20b.ECC.010.020 Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.
11
11:1b.ECC.011.001 Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.
11:2b.ECC.011.002 Gee 'n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie.
11:3b.ECC.011.003 As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as 'n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.
11:4b.ECC.011.004 Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.
11:5b.ECC.011.005 Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van 'n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.
11:6b.ECC.011.006 Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.
11:7b.ECC.011.007 Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou.
11:8b.ECC.011.008 Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid.
11:9b.ECC.011.009 Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring.
11:10b.ECC.011.010 En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid.
12
12:1b.ECC.012.001 En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie--
12:2b.ECC.012.002 voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,
12:3b.ECC.012.003 dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word,
12:4b.ECC.012.004 en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word.
12:5b.ECC.012.005 Ook sal hy bang wees vir 'n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
12:6b.ECC.012.006 Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val
12:7b.ECC.012.007 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
12:8b.ECC.012.008 Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs.
12:9b.ECC.012.009 En behalwe dat die Prediker 'n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel.
12:10b.ECC.012.010 Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is--woorde van waarheid.
12:11b.ECC.012.011 Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee.
12:12b.ECC.012.012 En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.
12:13b.ECC.012.013 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.
12:14b.ECC.012.014 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.
- Holder of rights
- Multilingual Bible Corpus
- Citation Suggestion for this Object
- TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Ecclesiastes (Afrikaans). Ecclesiastes (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-8574-F