Ruth (Afrikaans)
1
1:1b.RUT.001.001 En in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns.
1:2b.RUT.001.002 En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly.
1:3b.RUT.001.003 En Eliméleg, die man van Naómi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het oorgebly.
1:4b.RUT.001.004 En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly.
1:5b.RUT.001.005 En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en haar man oorbly,
1:6b.RUT.001.006 het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.
1:7b.RUT.001.007 So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan,
1:8b.RUT.001.008 sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het.
1:9b.RUT.001.009 Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween
1:10b.RUT.001.010 en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk.
1:11b.RUT.001.011 Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word?
1:12b.RUT.001.012 Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar--
1:13b.RUT.001.013 sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is.
1:14b.RUT.001.014 Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.
1:15b.RUT.001.015 Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan!
1:16b.RUT.001.016 Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.
1:17b.RUT.001.017 Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen--net die dood sal skeiding maak tussen my en u.
1:18b.RUT.001.018 Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek.
1:19b.RUT.001.019 En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi?
1:20b.RUT.001.020 Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.
1:21b.RUT.001.021 Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?
1:22b.RUT.001.022 So het Naómi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem gekom in die begin van die gars-oes.
2
2:1b.RUT.002.001 En Naómi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit die geslag van Eliméleg, wie se naam Boas was.
2:2b.RUT.002.002 En Rut, die Moabitiese, het vir Naómi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan my dogter.
2:3b.RUT.002.003 Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Eliméleg.
2:4b.RUT.002.004 En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën!
2:5b.RUT.002.005 Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou?
2:6b.RUT.002.006 En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het;
2:7b.RUT.002.007 en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit.
2:8b.RUT.002.008 Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit.
2:9b.RUT.002.009 Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep.
2:10b.RUT.002.010 Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling is?
2:11b.RUT.002.011 En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie.
2:12b.RUT.002.012 Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.
2:13b.RUT.002.013 Toe sê sy: So vind ek dan genade in u oë, my heer! Want u het my getroos en na die hart van u dienares gespreek, alhoewel ek nie soos een van u dienaresse is nie.
2:14b.RUT.002.014 En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou.
2:15b.RUT.002.015 Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie.
2:16b.RUT.002.016 En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie.
2:17b.RUT.002.017 En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent 'n efa gars.
2:18b.RUT.002.018 En sy het dit weggedra; en toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het; ook het sy uitgehaal en aan haar gegee wat sy oorgehou het nadat sy versadig was.
2:19b.RUT.002.019 Daarop vra haar skoonmoeder haar: Waar het jy vandag opgetel, en waar het jy gewerk? Mag hy geseënd wees wat in jou belang gestel het! En sy vertel haar skoonmoeder by wie sy gewerk het, en sê: Die naam van die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas.
2:20b.RUT.002.020 En Naómi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naómi vir haar: Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers.
2:21b.RUT.002.021 Toe sê Rut, die Moabitiese: Hy het ook nog vir my gesê: By my dienaars moet jy aansluit totdat hulle klaar is met die hele oes wat aan my behoort.
2:22b.RUT.002.022 Daarop het Naómi haar skoondogter Rut geantwoord: Dit is goed, my dogter, dat jy met sy diensmeisies saam uitgaan en aan jou geen kwaad op 'n ander land aangedoen word nie.
2:23b.RUT.002.023 So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.
3
3:1b.RUT.003.001 Toe sê haar skoonmoeder Naómi vir haar: My dogter, sal ek nie vir jou 'n rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie?
3:2b.RUT.003.002 Nou dan, is Boas by wie se diensmeisies jy gewees het, nie ons bloedverwant nie? Kyk, hy wan vannag op die vloer gars uit.
3:3b.RUT.003.003 Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan, en gaan af na die vloer toe; laat jou deur die man nie herken totdat hy klaar geëet en gedrink het nie.
3:4b.RUT.003.004 Maar as hy gaan slaap, let dan op die plek waar hy gaan slaap; kom dan nader, maak sy voetenent oop en gaan lê; en hy sal jou te kenne gee wat jy moet doen.
3:5b.RUT.003.005 En sy antwoord haar: Alles wat u sê, sal ek doen.
3:6b.RUT.003.006 Daarop het sy afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar beveel het.
3:7b.RUT.003.007 Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê.
3:8b.RUT.003.008 En die man het teen middernag geskrik en vooroor gebuig en--daar lê 'n vrou aan sy voetenent.
3:9b.RUT.003.009 En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.
3:10b.RUT.003.010 En hy sê: Geseënd is jy deur die HERE, my dogter! Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aan geloop het nie.
3:11b.RUT.003.011 Wees dan nou nie bang nie, my dogter; alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want die hele stadspoort van my volk weet dat jy 'n deugsame vrou is.
3:12b.RUT.003.012 Nou dan, dit is sekerlik waar dat ek die losser is, maar daar is nog 'n losser, nader as ek.
3:13b.RUT.003.013 Bly vannag oor; en as hy jou môre wil los, goed, hy kan los; maar as hy nie lus het om jou te los nie, dan sal ék jou los, so waar as die HERE leef! Bly lê tot môre.
3:14b.RUT.003.014 En sy het tot die môre aan sy voetenent bly lê. Maar nog voordat een die ander kon herken, het sy opgestaan; want hy het gesê: Dit mag nie bekend word dat die vrou op die vloer gekom het nie.
3:15b.RUT.003.015 Daarna sê hy: Gee die tjalie wat jy om het, en hou dit oop. En sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars afgemeet en dit op haar gesit en die stad ingegaan.
3:16b.RUT.003.016 Toe sy by haar skoonmoeder kom, het dié gevra: En toe, my dogter? En sy het haar alles vertel wat die man aan haar gedoen het,
3:17b.RUT.003.017 en gesê: Hierdie ses mate gars het hy my gegee, want hy het gesê: Jy moet nie met leë hande by jou skoonmoeder kom nie.
3:18b.RUT.003.018 En sy antwoord: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.
4
4:1b.RUT.004.001 En Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit.
4:2b.RUT.004.002 Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle het gaan sit.
4:3b.RUT.004.003 En hy sê vir die losser: Die stuk grond van ons broer Eliméleg wil Naómi, wat uit die veld van Moab teruggekom het, verkoop.
4:4b.RUT.004.004 Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los.
4:5b.RUT.004.005 Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel.
4:6b.RUT.004.006 En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.
4:7b.RUT.004.007 En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel.
4:8b.RUT.004.008 Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek.
4:9b.RUT.004.009 Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop.
4:10b.RUT.004.010 En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies.
4:11b.RUT.004.011 Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak 'n naam in Betlehem!
4:12b.RUT.004.012 En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het--uit die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!
4:13b.RUT.004.013 So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die HERE het vir haar swangerskap gegee, en sy het 'n seun gebaar.
4:14b.RUT.004.014 Toe sê die vroue vir Naómi: Geloofd sy die HERE wat aan jou vandag 'n losser nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word!
4:15b.RUT.004.015 Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.
4:16b.RUT.004.016 En Naómi het die kind geneem en op haar skoot gesit, en sy het sy pleegmoeder geword.
4:17b.RUT.004.017 En die buurvroue het hom 'n naam gegee en gesê: Vir Naómi is 'n seun gebore! En hulle het hom genoem Obed; hy was die vader van Isai, die vader van Dawid.
4:18b.RUT.004.018 En dit is die stamboom van Peres: Peres was die vader van Hesron,
4:19b.RUT.004.019 en Hesron die vader van Ram, en Ram van Ammínadab,
4:20b.RUT.004.020 en Ammínadab van Nagson, en Nagson van Salma,
4:21b.RUT.004.021 en Salmon van Boas, en Boas van Obed,
4:22b.RUT.004.022 en Obed van Isai, en Isai van Dawid.
- Holder of rights
- Multilingual Bible Corpus
- Citation Suggestion for this Object
- TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Ruth (Afrikaans). Ruth (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-854D-C