Galatians (Afrikaans)

Galatians (Afrikaans)

1

1:1b.GAL.001.001 Paulus, 'n apostel nie vanweë mense of deur 'n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het,

1:2b.GAL.001.002 en al die broeders wat by my is--aan die gemeentes van Galásië:

1:3b.GAL.001.003 Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus,

1:4b.GAL.001.004 wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader,

1:5b.GAL.001.005 aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen.

1:6b.GAL.001.006 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe,

1:7b.GAL.001.007 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

1:8b.GAL.001.008 Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!

1:9b.GAL.001.009 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom 'n vervloeking wees!

1:10b.GAL.001.010 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie.

1:11b.GAL.001.011 Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.

1:12b.GAL.001.012 Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus.

1:13b.GAL.001.013 Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;

1:14b.GAL.001.014 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.

1:15b.GAL.001.015 Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het,

1:16b.GAL.001.016 om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie,

1:17b.GAL.001.017 en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.

1:18b.GAL.001.018 Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly;

1:19b.GAL.001.019 en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.

1:20b.GAL.001.020 En wat ek julle skryf--voor die aangesig van God, ek lieg nie!

1:21b.GAL.001.021 Daarna het ek gekom in die streke van Sírië en Cilícië;

1:22b.GAL.001.022 en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa;

1:23b.GAL.001.023 hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei.

1:24b.GAL.001.024 En hulle het God verheerlik in my.

2

2:1b.GAL.002.001 Daarna, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Barnabas, en Titus ook saamgeneem.

2:2b.GAL.002.002 Maar ek het opgegaan op grond van 'n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig; en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.

2:3b.GAL.002.003 Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is;

2:4b.GAL.002.004 en dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring;

2:5b.GAL.002.005 aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.

2:6b.GAL.002.006 Maar van die wat in aansien was--wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie--hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.

2:7b.GAL.002.007 Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes--

2:8b.GAL.002.008 want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene--

2:9b.GAL.002.009 en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan;

2:10b.GAL.002.010 alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.

2:11b.GAL.002.011 Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.

2:12b.GAL.002.012 Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.

2:13b.GAL.002.013 En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.

2:14b.GAL.002.014 Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?

2:15b.GAL.002.015 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,

2:16b.GAL.002.016 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

2:17b.GAL.002.017 Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan 'n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie!

2:18b.GAL.002.018 Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself 'n oortreder;

2:19b.GAL.002.019 want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe.

2:20b.GAL.002.020 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

2:21b.GAL.002.021 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

3

3:1b.GAL.003.001 o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?

3:2b.GAL.003.002 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

3:3b.GAL.003.003 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?

3:4b.GAL.003.004 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!

3:5b.GAL.003.005 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

3:6b.GAL.003.006 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.

3:7b.GAL.003.007 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.

3:8b.GAL.003.008 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.

3:9b.GAL.003.009 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

3:10b.GAL.003.010 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

3:11b.GAL.003.011 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

3:12b.GAL.003.012 Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.

3:13b.GAL.003.013 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word--want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang--

3:14b.GAL.003.014 sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

3:15b.GAL.003.015 Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.

3:16b.GAL.003.016 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

3:17b.GAL.003.017 Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.

3:18b.GAL.003.018 Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur 'n belofte genadiglik geskenk.

3:19b.GAL.003.019 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van 'n middelaar.

3:20b.GAL.003.020 En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.

3:21b.GAL.003.021 Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar 'n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.

3:22b.GAL.003.022 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

3:23b.GAL.003.023 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.

3:24b.GAL.003.024 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

3:25b.GAL.003.025 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.

3:26b.GAL.003.026 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

3:27b.GAL.003.027 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

3:28b.GAL.003.028 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

3:29b.GAL.003.029 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

4

4:1b.GAL.004.001 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam 'n kind is, verskil hy niks van 'n dienskneg nie, al is hy heer van alles;

4:2b.GAL.004.002 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.

4:3b.GAL.004.003 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.

4:4b.GAL.004.004 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet,

4:5b.GAL.004.005 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

4:6b.GAL.004.006 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!

4:7b.GAL.004.007 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.

4:8b.GAL.004.008 Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie;

4:9b.GAL.004.009 maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

4:10b.GAL.004.010 Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.

4:11b.GAL.004.011 Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.

4:12b.GAL.004.012 Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie;

4:13b.GAL.004.013 maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;

4:14b.GAL.004.014 en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as 'n engel van God, ja, as Christus Jesus.

4:15b.GAL.004.015 Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.

4:16b.GAL.004.016 Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?

4:17b.GAL.004.017 Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer.

4:18b.GAL.004.018 Dit is goed as daar altyd geywer word in 'n goeie saak en nie alleen wanneer ek by julle teenwoordig is nie,

4:19b.GAL.004.019 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle 'n gestalte verkry.

4:20b.GAL.004.020 En ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.

4:21b.GAL.004.021 Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?

4:22b.GAL.004.022 Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.

4:23b.GAL.004.023 Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.

4:24b.GAL.004.024 Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar--dit is Hagar;

4:25b.GAL.004.025 want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.

4:26b.GAL.004.026 Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.

4:27b.GAL.004.027 Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat 'n man het.

4:28b.GAL.004.028 Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte;

4:29b.GAL.004.029 maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.

4:30b.GAL.004.030 Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.

4:31b.GAL.004.031 Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.

5

5:1b.GAL.005.001 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

5:2b.GAL.005.002 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.

5:3b.GAL.005.003 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

5:4b.GAL.005.004 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

5:5b.GAL.005.005 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

5:6b.GAL.005.006 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.

5:7b.GAL.005.007 Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?

5:8b.GAL.005.008 Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie.

5:9b.GAL.005.009 'n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.

5:10b.GAL.005.010 Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees.

5:11b.GAL.005.011 Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig!

5:12b.GAL.005.012 Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!

5:13b.GAL.005.013 Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.

5:14b.GAL.005.014 Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

5:15b.GAL.005.015 Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.

5:16b.GAL.005.016 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;

5:17b.GAL.005.017 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

5:18b.GAL.005.018 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

5:19b.GAL.005.019 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;

5:20b.GAL.005.020 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;

5:21b.GAL.005.021 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

5:22b.GAL.005.022 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

5:23b.GAL.005.023 Teen sulke dinge is die wet nie.

5:24b.GAL.005.024 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

5:25b.GAL.005.025 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

5:26b.GAL.005.026 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

6

6:1b.GAL.006.001 Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.

6:2b.GAL.006.002 Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

6:3b.GAL.006.003 Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.

6:4b.GAL.006.004 Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie.

6:5b.GAL.006.005 Want elkeen sal sy eie pak dra.

6:6b.GAL.006.006 Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.

6:7b.GAL.006.007 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

6:8b.GAL.006.008 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.

6:9b.GAL.006.009 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.

6:10b.GAL.006.010 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

6:11b.GAL.006.011 Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.

6:12b.GAL.006.012 Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.

6:13b.GAL.006.013 Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem.

6:14b.GAL.006.014 Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.

6:15b.GAL.006.015 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar 'n nuwe skepsel.

6:16b.GAL.006.016 En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!

6:17b.GAL.006.017 Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam.

6:18b.GAL.006.018 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees, broeders! Amen.


Holder of rights
Multilingual Bible Corpus

Citation Suggestion for this Object
TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Galatians (Afrikaans). Galatians (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-85C5-3