Daniel (Afrikaans)

Daniel (Afrikaans)

1

1:1b.DAN.001.001 In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.

1:2b.DAN.001.002 En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met 'n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land Sínear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring.

1:3b.DAN.001.003 Daarop het die koning aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring:

1:4b.DAN.001.004 jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.

1:5b.DAN.001.005 En die koning het vir hulle 'n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien.

1:6b.DAN.001.006 En onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja.

1:7b.DAN.001.007 Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Daniël het hy Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo.

1:8b.DAN.001.008 En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.

1:9b.DAN.001.009 En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.

1:10b.DAN.001.010 En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?

1:11b.DAN.001.011 Maar Daniël het aan die bediende gesê wat die owerste van die hofdienaars oor Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja aangestel het:

1:12b.DAN.001.012 Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink;

1:13b.DAN.001.013 laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees.

1:14b.DAN.001.014 Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel.

1:15b.DAN.001.015 En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het.

1:16b.DAN.001.016 So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee.

1:17b.DAN.001.017 En hierdie vier jong seuns--God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.

1:18b.DAN.001.018 En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring.

1:19b.DAN.001.019 En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die koning gedien.

1:20b.DAN.001.020 En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.

1:21b.DAN.001.021 En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.

2

2:1b.DAN.002.001 En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar 'n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.

2:2b.DAN.002.002 Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan,

2:3b.DAN.002.003 sê die koning vir hulle: Ek het 'n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan.

2:4b.DAN.002.004 Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek Aramees: Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee.

2:5b.DAN.002.005 Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word.

2:6b.DAN.002.006 Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne.

2:7b.DAN.002.007 Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.

2:8b.DAN.002.008 Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan;

2:9b.DAN.002.009 want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.

2:10b.DAN.002.010 Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie.

2:11b.DAN.002.011 Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.

2:12b.DAN.002.012 Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.

2:13b.DAN.002.013 Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.

2:14b.DAN.002.014 Daarop het Daniël aan Ariog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige antwoord gegee.

2:15b.DAN.002.015 Hy antwoord en sê vir Ariog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Ariog aan Daniël die saak meegedeel.

2:16b.DAN.002.016 Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee.

2:17b.DAN.002.017 Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend,

2:18b.DAN.002.018 en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.

2:19b.DAN.002.019 Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.

2:20b.DAN.002.020 Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.

2:21b.DAN.002.021 Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;

2:22b.DAN.002.022 Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.

2:23b.DAN.002.023 U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.

2:24b.DAN.002.024 Daarom het Daniël ingegaan na Ariog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.

2:25b.DAN.002.025 Toe het Ariog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het 'n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.

2:26b.DAN.002.026 Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?

2:27b.DAN.002.027 Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.

2:28b.DAN.002.028 Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:

2:29b.DAN.002.029 Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.

2:30b.DAN.002.030 En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.

2:31b.DAN.002.031 U, o koning, het 'n gesig gehad--kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik.

2:32b.DAN.002.032 Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,

2:33b.DAN.002.033 sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.

2:34b.DAN.002.034 U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.

2:35b.DAN.002.035 Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

2:36b.DAN.002.036 Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:

2:37b.DAN.002.037 U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,

2:38b.DAN.002.038 en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het--ú is die hoof van goud.

2:39b.DAN.002.039 En ná u sal daar 'n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna 'n ander, 'n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;

2:40b.DAN.002.040 en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.

2:41b.DAN.002.041 En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was--dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.

2:42b.DAN.002.042 En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is--'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees.

2:43b.DAN.002.043 Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het--hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.

2:44b.DAN.002.044 Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan--

2:45b.DAN.002.045 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.

2:46b.DAN.002.046 Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring.

2:47b.DAN.002.047 Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.

2:48b.DAN.002.048 Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.

2:49b.DAN.002.049 En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.

3

3:1b.DAN.003.001 Koning Nebukadnésar het 'n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.

3:2b.DAN.003.002 Daarna het koning Nebukadnésar die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies laat versamel, dat hulle moes kom na die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het.

3:3b.DAN.003.003 Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadnésar opgerig het.

3:4b.DAN.003.004 En 'n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en tale,

3:5b.DAN.003.005 sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.

3:6b.DAN.003.006 En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.

3:7b.DAN.003.007 Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.

3:8b.DAN.003.008 Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangeklaag.

3:9b.DAN.003.009 Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe!

3:10b.DAN.003.010 U, o koning, het 'n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid;

3:11b.DAN.003.011 en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.

3:12b.DAN.003.012 Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.

3:13b.DAN.003.013 Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.

3:14b.DAN.003.014 En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?

3:15b.DAN.003.015 As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?

3:16b.DAN.003.016 Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop 'n antwoord te gee nie.

3:17b.DAN.003.017 As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;

3:18b.DAN.003.018 maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.

3:19b.DAN.003.019 Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.

3:20b.DAN.003.020 En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi.

3:21b.DAN.003.021 Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi.

3:22b.DAN.003.022 Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand.

3:23b.DAN.003.023 Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval.

3:24b.DAN.003.024 Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning!

3:25b.DAN.003.025 Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun.

3:26b.DAN.003.026 Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan.

3:27b.DAN.003.027 Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.

3:28b.DAN.003.028 Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

3:29b.DAN.003.029 Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis 'n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.

3:30b.DAN.003.030 Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.

4

4:1b.DAN.004.001 Koning Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees!

4:2b.DAN.004.002 Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig.

4:3b.DAN.004.003 Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!

4:4b.DAN.004.004 Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.

4:5b.DAN.004.005 Ek het 'n droomgesig gesien wat my verskrik het--droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus.

4:6b.DAN.004.006 Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak.

4:7b.DAN.004.007 Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie;

4:8b.DAN.004.008 totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel:

4:9b.DAN.004.009 Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.

4:10b.DAN.004.010 Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref--ek het gesien, en kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.

4:11b.DAN.004.011 Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.

4:12b.DAN.004.012 Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed.

4:13b.DAN.004.013 Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, 'n bode, naamlik 'n heilige, het uit die hemel neergedaal;

4:14b.DAN.004.014 hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke.

4:15b.DAN.004.015 Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde.

4:16b.DAN.004.016 Laat sy hart anders word as dié van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.

4:17b.DAN.004.017 Op 'n besluit van die bodes berus die bevel, en 'n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.

4:18b.DAN.004.018 Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.

4:19b.DAN.004.019 Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, 'n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom.

4:20b.DAN.004.020 Die boom wat u gesien het--wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,

4:21b.DAN.004.021 en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het--

4:22b.DAN.004.022 dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.

4:23b.DAN.004.023 En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het--

4:24b.DAN.004.024 dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom:

4:25b.DAN.004.025 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.

4:26b.DAN.004.026 En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan--u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.

4:27b.DAN.004.027 Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.

4:28b.DAN.004.028 Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom.

4:29b.DAN.004.029 Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel,

4:30b.DAN.004.030 het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?

4:31b.DAN.004.031 Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê--die koningskap word jou ontneem;

4:32b.DAN.004.032 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.

4:33b.DAN.004.033 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar--hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.

4:34b.DAN.004.034 En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.

4:35b.DAN.004.035 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?

4:36b.DAN.004.036 In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref--my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg.

4:37b.DAN.004.037 Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.

5

5:1b.DAN.005.001 Koning Bélsasar het 'n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.

5:2b.DAN.005.002 By die genot van die wyn het Bélsasar bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.

5:3b.DAN.005.003 Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink.

5:4b.DAN.005.004 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.

5:5b.DAN.005.005 Op dieselfde oomblik het daar vingers van 'n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het.

5:6b.DAN.005.006 Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan.

5:7b.DAN.005.007 Die koning het hardop uitgeroep om die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers in te bring. Daarop het die koning gespreek en aan die wyse manne van Babel gesê: Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en 'n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers.

5:8b.DAN.005.008 Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie.

5:9b.DAN.005.009 Toe het koning Bélsasar baie verskrik geword, en sy gelaatskleur het aan hom verander, ook sy maghebbers was in verwarring.

5:10b.DAN.005.010 Na aanleiding van die woorde van die koning en van sy maghebbers het die koningin in die eetsaal ingegaan; die koningin het begin spreek en gesê: Mag die koning in ewigheid lewe! Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie verander nie.

5:11b.DAN.005.011 Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel--u vader, o koning! --

5:12b.DAN.005.012 omdat in hom 'n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak--in Daniël aan wie die koning die naam van Béltsasar gegee het; laat Daniël nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee.

5:13b.DAN.005.013 Toe is Daniël voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Is jy Daniël wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my vader, uit Juda gebring het?

5:14b.DAN.005.014 Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word.

5:15b.DAN.005.015 Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie.

5:16b.DAN.005.016 Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak; as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met purper beklee word, en 'n goue ketting sal daar om jou hals wees, en jy sal as derde in rang in die koninkryk heers.

5:17b.DAN.005.017 Toe het Daniël geantwoord en voor die koning gesê: U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan 'n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak.

5:18b.DAN.005.018 Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee.

5:19b.DAN.005.019 En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder.

5:20b.DAN.005.020 Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem.

5:21b.DAN.005.021 En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil.

5:22b.DAN.005.022 Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet;

5:23b.DAN.005.023 maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.

5:24b.DAN.005.024 Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe.

5:25b.DAN.005.025 En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín.

5:26b.DAN.005.026 Dit is die uitleg van die woord: Mené--God het u koningskap getel en daar 'n einde aan gemaak;

5:27b.DAN.005.027 tekél--u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;

5:28b.DAN.005.028 perés--u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.

5:29b.DAN.005.029 Toe het Bélsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met purper beklee, met 'n goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers.

5:30b.DAN.005.030 In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood.

6

6:1b.DAN.006.001 En Daríus, die Meder, was twee en sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.

6:2b.DAN.006.002 Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd en twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees;

6:3b.DAN.006.003 en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.

6:4b.DAN.006.004 Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat 'n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

6:5b.DAN.006.005 Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om 'n grond vir 'n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir 'n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.

6:6b.DAN.006.006 Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir 'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.

6:7b.DAN.006.007 Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en só vir hom gesê: Mag koning Daríus vir ewig lewe!

6:8b.DAN.006.008 Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.

6:9b.DAN.006.009 Stel nou 'n verbod vas, o koning, en laat 'n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is.

6:10b.DAN.006.010 Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.

6:11b.DAN.006.011 En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.

6:12b.DAN.006.012 Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek.

6:13b.DAN.006.013 Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie 'n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.

6:14b.DAN.006.014 Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op 'n dag doen hy sy gebed.

6:15b.DAN.006.015 Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red.

6:16b.DAN.006.016 Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning gesê: Weet, o koning, dat dit 'n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.

6:17b.DAN.006.017 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!

6:18b.DAN.006.018 En 'n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie.

6:19b.DAN.006.019 Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug.

6:20b.DAN.006.020 Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan.

6:21b.DAN.006.021 En toe hy nader kom na die kuil, het hy met 'n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?

6:22b.DAN.006.022 Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe!

6:23b.DAN.006.023 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.

6:24b.DAN.006.024 Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.

6:25b.DAN.006.025 En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.

6:26b.DAN.006.026 Toe het koning Daríus aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!

6:27b.DAN.006.027 Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe.

6:28b.DAN.006.028 Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.

6:29b.DAN.006.029 En hierdie Daniël was voorspoedig onder die regering van Daríus en onder die regering van Kores, die Pers.

7

7:1b.DAN.007.001 In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.

7:2b.DAN.007.002 Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;

7:3b.DAN.007.003 en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.

7:4b.DAN.007.004 Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.

7:5b.DAN.007.005 En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.

7:6b.DAN.007.006 Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.

7:7b.DAN.007.007 Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.

7:8b.DAN.007.008 Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.

7:9b.DAN.007.009 Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur;

7:10b.DAN.007.010 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.

7:11b.DAN.007.011 Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.

7:12b.DAN.007.012 Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.

7:13b.DAN.007.013 Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.

7:14b.DAN.007.014 En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

7:15b.DAN.007.015 Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.

7:16b.DAN.007.016 Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak:

7:17b.DAN.007.017 Hierdie groot diere wat vier is--vier konings sal uit die aarde opstaan;

7:18b.DAN.007.018 en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.

7:19b.DAN.007.019 Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het,

7:20b.DAN.007.020 en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en 'n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.

7:21b.DAN.007.021 Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,

7:22b.DAN.007.022 totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.

7:23b.DAN.007.023 Só het hy gesê: Die vierde dier--die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.

7:24b.DAN.007.024 En die tien horings--uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.

7:25b.DAN.007.025 En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.

7:26b.DAN.007.026 Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.

7:27b.DAN.007.027 Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.

7:28b.DAN.007.028 Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.

8

8:1b.DAN.008.001 In die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, 'n gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het.

8:2b.DAN.008.002 Ek het naamlik in die gesig gesien--terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam lê; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het.

8:3b.DAN.008.003 En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan 'n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.

8:4b.DAN.008.004 Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.

8:5b.DAN.008.005 Terwyl ek daarop ag gee, kom daar 'n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het 'n aansienlike horing tussen sy oë gehad.

8:6b.DAN.008.006 En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.

8:7b.DAN.008.007 En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.

8:8b.DAN.008.008 En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.

8:9b.DAN.008.009 En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.

8:10b.DAN.008.010 En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.

8:11b.DAN.008.011 Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.

8:12b.DAN.008.012 En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.

8:13b.DAN.008.013 Toe hoor ek 'n heilige spreek; en 'n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur--van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid--sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?

8:14b.DAN.008.014 En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.

8:15b.DAN.008.015 En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het.

8:16b.DAN.008.016 En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan!

8:17b.DAN.008.017 Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.

8:18b.DAN.008.018 En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig

8:19b.DAN.008.019 en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.

8:20b.DAN.008.020 Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.

8:21b.DAN.008.021 En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning.

8:22b.DAN.008.022 En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het--vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.

8:23b.DAN.008.023 Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal 'n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.

8:24b.DAN.008.024 En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.

8:25b.DAN.008.025 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.

8:26b.DAN.008.026 En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op 'n verre toekoms.

8:27b.DAN.008.027 En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.

9

9:1b.DAN.009.001 In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs,

9:2b.DAN.009.002 in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.

9:3b.DAN.009.003 En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.

9:4b.DAN.009.004 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou,

9:5b.DAN.009.005 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

9:6b.DAN.009.006 En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.

9:7b.DAN.009.007 Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.

9:8b.DAN.009.008 Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.

9:9b.DAN.009.009 By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan

9:10b.DAN.009.010 en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.

9:11b.DAN.009.011 Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig.

9:12b.DAN.009.012 En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie;

9:13b.DAN.009.013 soos in die wet van Moses geskrywe is--al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.

9:14b.DAN.009.014 Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie.

9:15b.DAN.009.015 Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met 'n sterke hand uitgelei en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos.

9:16b.DAN.009.016 o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk 'n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.

9:17b.DAN.009.017 Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.

9:18b.DAN.009.018 Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.

9:19b.DAN.009.019 Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.

9:20b.DAN.009.020 Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God,

9:21b.DAN.009.021 terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.

9:22b.DAN.009.022 En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.

9:23b.DAN.009.023 By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.

9:24b.DAN.009.024 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.

9:25b.DAN.009.025 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.

9:26b.DAN.009.026 En ná die twee en sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.

9:27b.DAN.009.027 En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

10

10:1b.DAN.010.001 In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is 'n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.

10:2b.DAN.010.002 In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur.

10:3b.DAN.010.003 Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.

10:4b.DAN.010.004 En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddékel,

10:5b.DAN.010.005 het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas.

10:6b.DAN.010.006 En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van 'n menigte.

10:7b.DAN.010.007 En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het 'n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.

10:8b.DAN.010.008 Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.

10:9b.DAN.010.009 En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval.

10:10b.DAN.010.010 En kyk, 'n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan.

10:11b.DAN.010.011 En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan.

10:12b.DAN.010.012 Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;

10:13b.DAN.010.013 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.

10:14b.DAN.010.014 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.

10:15b.DAN.010.015 En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword.

10:16b.DAN.010.016 En kyk, een wat soos 'n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, gesê: My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie.

10:17b.DAN.010.017 En hoe kan so 'n geringe kneg van my heer met so 'n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie.

10:18b.DAN.010.018 Toe het die een wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk

10:19b.DAN.010.019 en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.

10:20b.DAN.010.020 Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland.

10:21b.DAN.010.021 Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael.

11

11:1b.DAN.011.001 En ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek opgetree as 'n versterking en beskutting vir hóm.

11:2b.DAN.011.002 En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.

11:3b.DAN.011.003 Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.

11:4b.DAN.011.004 En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie--want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.

11:5b.DAN.011.005 En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees.

11:6b.DAN.011.006 En ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie--hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het.

11:7b.DAN.011.007 Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees;

11:8b.DAN.011.008 ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat.

11:9b.DAN.011.009 Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek.

11:10b.DAN.011.010 En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.

11:11b.DAN.011.011 Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook 'n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.

11:12b.DAN.011.012 As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende neerslaan, maar nie sterk bly nie.

11:13b.DAN.011.013 Dan sal die koning van die Noorde weer 'n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met 'n groot leër en 'n groot gevolg.

11:14b.DAN.011.014 En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om 'n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom.

11:15b.DAN.011.015 So sal dan die koning van die Noorde kom en 'n wal opwerp en 'n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.

11:16b.DAN.011.016 En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.

11:17b.DAN.011.017 En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom 'n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.

11:18b.DAN.011.018 Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar 'n aanvoerder sal aan sy gesmaad 'n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.

11:19b.DAN.011.019 Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.

11:20b.DAN.011.020 En in sy plek sal iemand optree wat 'n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.

11:21b.DAN.011.021 Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.

11:22b.DAN.011.022 En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.

11:23b.DAN.011.023 Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word.

11:24b.DAN.011.024 Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir 'n tyd.

11:25b.DAN.011.025 En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met 'n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met 'n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.

11:26b.DAN.011.026 En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê.

11:27b.DAN.011.027 En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.

11:28b.DAN.011.028 En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.

11:29b.DAN.011.029 Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.

11:30b.DAN.011.030 Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.

11:31b.DAN.011.031 En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.

11:32b.DAN.011.032 En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.

11:33b.DAN.011.033 En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.

11:34b.DAN.011.034 En terwyl hulle struikel, sal hulle met 'n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.

11:35b.DAN.011.035 En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde--want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd.

11:36b.DAN.011.036 En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.

11:37b.DAN.011.037 En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.

11:38b.DAN.011.038 Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.

11:39b.DAN.011.039 So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van 'n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel.

11:40b.DAN.011.040 Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.

11:41b.DAN.011.041 Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.

11:42b.DAN.011.042 En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie.

11:43b.DAN.011.043 En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg.

11:44b.DAN.011.044 Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.

11:45b.DAN.011.045 En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.

12

12:1b.DAN.012.001 En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.

12:2b.DAN.012.002 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.

12:3b.DAN.012.003 En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.

12:4b.DAN.012.004 En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.

12:5b.DAN.012.005 En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.

12:6b.DAN.012.006 En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?

12:7b.DAN.012.007 Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.

12:8b.DAN.012.008 En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?

12:9b.DAN.012.009 En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.

12:10b.DAN.012.010 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.

12:11b.DAN.012.011 En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop.

12:12b.DAN.012.012 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik.

12:13b.DAN.012.013 En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.


Holder of rights
Multilingual Bible Corpus

Citation Suggestion for this Object
TextGrid Repository (2025). Afrikaans Collection. Daniel (Afrikaans). Daniel (Afrikaans). Multilingual Parallel Bible Corpus. Multilingual Bible Corpus. https://hdl.handle.net/21.11113/0000-0016-8586-A